Sit so bietjie alleen en luister na Sinead Lohan se musiek onder andere na haar weergawe van ’n Bob Dylan liedjie “2 Ramona”. Die pragtige woorde laat my dink aan jare gelede toe ek ’n derdejaar student was (1973) en besluit het om nie weer terug te gaan koshuis toe nie maar eerder vir my ’n plekkie in die stad te kry en op my eie te wees.
So gedoen en ek kry vir my ’n buitekamertjie by twee ouerige mense iewers onderkant De Wet se perd sonder om te besef dat dit eintlik baie vêr is van die universiteit en dit sonder ’n motor.
Maar, ek is mos nou ’n grootmens en ek laat my nie afsit van klein probleempies nie. Ek loop elke dag so tussen ’n uur-en-n-half en twee uur klas toe en dieselfde tyd terug. Vir ’n jongman soos ek was dit nie so erg nie want ek was redelik fiks en die blyplek was ook nie te sleg nie.
Die tannie het elke aand gesorg dat my bord kos in my kamer vir my staan en wag en my elke oggend vroeg wakker gemaak met ’n koppie koffie. Ek het ook so ou klein platespelertjie aangeskaf met ’n paar langspeelplate en ’n klompie leesboeke en natuurlik ook so bietjie leerwerk tussenin gehad.
Grootmeneer op my eie maar nie vir baie lank nie toe ek begin besef ek is eintlik besig om eensaam te raak so op my eie. Ek het “Sunday Morning Coming Down” van Ray Stevens al hoe meer begin speel so asof ek iets gesoek het om by my “mood” aan te pas. Dit was naderhand so erg en ek het dit oor en oor gespeel, het naderhand begin voel soos daardie ou waaroor die liedjie gaan.
Op ’n dag het ek net besef dit kan nie so aangaan nie en ek het aansoek gedoen om weer terug te gaan koshuis toe en gelukkig plek gekry, binne ’n paar dae was ek weer sak en pak terug en amper gevoel asof ek my lewe weer terug gekry het. Ek was toe ook natuurlik (in my eie oë) ’n “hit”, een van die min ouens in die koshuis met ’n platespeler.
Somtyds as ek hier voor die rekenaar sit en besig is om my ou voëltjies, insekte en ander foto’tjies te “edit” dan sit ek weer Ray Stevens, Bob Dylan en andere soos die Bee Gees se musiek op en wonder hoekom ek verlang na daardie eensame tyd.
Möwe du fliegst in die heimat...
Jan