Die Robbe in die Wes-Kaap
Hennie Pienaar
Die ontstaan van die Robbe in die Wes-Kaap het sy grondslag in 2003 gekry toe my een dogter, Lelani, vir haar koshuis ‘n modeparade by ‘n plaaslike hotel moes reël in Stellenbosch. Of die mansstudente teenwoordig deel was van haar projek, kan ek nie meer onthou nie, maar dalk was hulle maar net daar om die talent te sien.
Met die mansstudente daar kon dit nie anders dat ek verlangend teruggedink het aan my wonderlike jare in President Reitz-kamerwonings nie. Daardie wonderlike dae van kameraderie, studentepret en rugby op Pelliespark. En ja, soms dalk die akademie ook. Wat my dié aand finaal aan die hart gegryp het, was toe ek ‘n mansstudent eensaam en treurig sien staan het. Dors. Duidelik was hy finansieel ingeperk. (Reitzmanne wéét dit net!). Net toe ek wou opstaan om ‘n sendingtog aan te pak om hom van sy dors te verlos met ‘n bier, het ‘n paar van sy pêlle tot sy redding gekom. Maar, dié toneel het my laat terugverlang na ons dae in Reitz. Die dae van ‘n “huishap” en die dae toe ‘n bier slegs 20 sent gekos het. (Ai, die rol van inflasie tog!). Ek onthou hoe iemand in die koshuis gedurende die vroeg 70’s net geskree het, HUISHAP, en dan was daar ‘n tsunami van motors wat uitgerol het na die ou Fontein Hotel of die President Hotel. My pêl Kokkie (Stoffel Kok) het soms gevra of ek hom ‘n Rand kon leen, die ekwiwalent van vyf biere. Vyf van die goue bestes. Op 4 April 2003 het ek ‘n e-pos aan die Bult gestuur om oud-Reitzmanne in die Wes-Kaap te vra om my te kontak. Op 17 April 2003 het ek navraag gedoen by die universiteit se destydse Skakelburo om vas te stel watter databasis daar beskikbaar was van oud-Reitzmanne, veral in die Wes-Kaap. My navorsing oor die oumanne was maar redelik wisselvallig en tussen 2003 en Mei 2006 het dit stadig gevorder. Uiteindelik het ek met die karige inligting wat ek bymekaar gemaak het, dit regggekry om ‘n databasis op te bou, en die heel eerste nuusbrief vir oud-Reitzmanne was op 3 Mei 2006 uitgestuur. Op Vrydag, 12 Mei 2006 was die heel eerste byeenkoms van oud-Reitzmanne in die Wes-Kaap gehou. In ‘n raserige klub, Phat Pool Pub in Brackenfell. Nege oumanne het opgedaag terwyl dertien verskoning gemaak het. Willie Linström, wyle Deon Nel, Dries (AB) du Toit, Frik Ras, oom Phil Robinson, Johan Janssen, Riaan Burger, Franz Holm en die uwe was daar. Ek onthou nog goed hoe oom Phil by die trappe opgeklim gekom het in sy oud-Kovsie baadjie met die strepe – en met foto’s byderhand. Sommiges was al geel van ouderdom. Ek was sprakeloos want oom Phil was in 1951 al eerstejaar – toe ek maar net een jaar oud was. Toevallig was oom Phil se e-pos oor ons eerste bymekaarkom die heel eerste terugvoer wat ek op 15 Mei 2006 ontvang het. Op 26 Oktober 2006 het ons ons oumanne ons tweede byeenkoms gehou, en sedertdien probeer ons om elke kwartaal bymekaar te kom. Ons vergader by die Dros in Bellville en dit is fantasties om elke keer die gees te ervaar. Ek het heelwat name van oud-Reitzmanne wat in die Suid-Kaap woon, maar die afstande maak dit moeilik vir hulle om ons byeenkomste by te woon. Vanjaar op 12 Mei het die Kaapse Robbe hulle sewende verjaardag gevier. Daar woon so gemiddeld tussen 19 – 30 oumanne die byeenkomste by, afhangende van omstandighede. Dit is roerend om te sien die moeite wat die oumanne doen om verskoning te vra wanneer hulle nie teenwoordig kan wees nie. Die grootste byeenkoms was toe Heimat se rugbyspanne gedurende 2011 in die Kaap kom speel het. Ongeveer 60 ou-manne het die byeenkoms bygewoon. (Tom Ferreira wat in 1970 saam met my eerstejaar was het voorgestel dat die oumanne bekend staan as die ROBBE - Reitz Old Boys). |
Stuur asseblief julle foto's aan jp@reitzoldboys.co.za vir plasing. Onthou name!
|